Dinsdag 26 Januarie 2021

3: Is dit die moete werd om nog met die NGK te debatteer? My les geleer.

Waarom was ek by die SGV debat betrokke? 

Omdat ek teleurgesteld is in die leiding wat die NGK se leiers die afgelope jare op Sinodale vlak gee. Die AS2019 besluite is vir my onaanvaarbaar omdat ek oordeel dat dit nie in ooreenstemming met die Skrif en tot eer van God is nie. (Sien my Skrywe oor waarom ek self die pad van Dolering gekies het; Dit kan hier gelees word.)

Daarom, toe ek onlangs weer afkom op die materiaal van 'n Konferensie oor die Bybel en Seksualiteit, met van ons land se top-teoloë as sprekers, was ek baie opgewonde daaroor omdat dit deurgaans 'n sterk behoudende Bybelse standpunt teen SGV verhoudings gestel het, waarmee ek nog altyd sterk assosieer het. Daarom het ek dit in 'n plasing op Sosiale Media gedeel as 'n bydrae in hierdie debat. 

Was dit enigsins die moete werd?  Die afloop daarvan.

(Nota: Weens 'n misverstand oor die datering van die Konferensie op die YouTube blad waar ek die inligting gekry het, waar dit verkeerdelik aangedui is "5 years ago", het ek dus aangeneem dit was 2015?; dus was die Konferensie in werklikheid 9 jaar vroeër. Ja, agterna onthou ek dat een van die sprekers my wel 'n paar jaar tevore ook op die verkeerde datum gewys het in 'n Facebook gesprek, maar dit het my werklik hier ontgaan. Die inhoud is tog immers waaroor dit gaan, nie wanneer dit gebeur het nie.) 

Twee van die Sprekers by hierdie Konferensie het na my plasing daarop reageer. Ek is beskuldig dat ek vals inligting versprei en van my liefdelose optrede en uitsprake binne die Gay debat (Ek stel dit onomwonde dat ek nog nooit deel was van enige liefdelose uitsprake of optredes teenoor Gay mense nie! Dit het nog deurentyd vir my in die debat gegaan om slegs "Wat sê die Skrif?").

Die Sprekers het my veral aangespreek oor drie sake:

  • oor ek daardie materiaal "sonder hulle toestemming" geplaas het. (Ek het nog nooit tevore toestemming nodig gehad met die plasing van enige materiaal oor 'n Konferensie wat op 'n Webwerf geplaas was nie? Ek het in die verlede verskeie ander materiaal van hierdie sprekers op Sosiale Media gedeel sonder "toestemming" en sonder probleme daaroor.)
  • my fout met die datum. Volgens die verduideliking van een spreker het sy behoudende Bybelse standpunt van tydens die Konferensie verander omdat hy ook ander insigte bygekry het en omdat die konteks ook soveel verander het. Vandag onderskryf hy dus volledig die AS2019 besluite volgens hom. (Geen verduideliking word gegee watter ander insigte intussen tot so 'n ander standpunt gelei het nie.) 
  • Die ander spreker het dieselfde besware oor "toestemming" en die verkeerde datum genoem. (Hy wou tevore op 'n Facebook plasing op 'n navraag van my oor sy standpunt tov die AS2019 besluite geen duidelike antwoord gee nie, slegs "dat hy nie 'n deelnemer in debatte is waar mense geboelie word wat nie in hulle bokskryte wil veg nie". Ek wou nie in 'n debat hieroor tree nie en maar slegs probeer duidelikheid kry of sy standpunt daaroor steeds soos tydens die Konferensie was.)
  • Altwee sprekers het ook beswaar gemaak dat ek sou insinueer het dat hulle onder groepsdruk geswig het; dat ek onsin hieroor verkondig. Ek het dit nie gesê nie, maar slegs verwys na die groot druk wat vanuit die pro-Gay groep bestaan en wat sodanig toegeneem het dat dit logies is dat iemand met steeds behoudende standpunte deesdae onder ekstra druk geplaas word. Voorbeelde van sulke druk is die dra van Liefde-is-Liefde T-hemde en demonstrasies, die verskeie Pro-Gay protes-petisies oor die afgelope jare asook 'n onlangse Hofsaak teen 'n behoudende Teoloog (met sekerlik gepaardgaande regskoste vir so 'n persoon).
Hierdie ervaring en belewenis hiervan. 
  • Wat ek hier beleef het, was dat ek in my eerlike soeke na die regte Skrifgefundeerde riglyne oor die saak van SGV, veral by mense waarna ek in die verlede nog altyd as Bybelgetroue teoloë opgesien het, slegs 'n aanvallende reaksie ontvang het - sonder enige aanduiding van watter ander insigte bygekom het en hoe die konteks nou sodanig verander het dat iets wat hulle tevore met soveel oortuiging afgewys het, nou aanvaarbaar geword het. 
  • Ek besef nou finaal daar is geen sin meer vir my om te hoop dat die NGK leiding hieroor gaan herbesin nie. Ek besef nou finaal my ou poginkies en deelname aan enige debat hieroor gaan net tydmors wees. (Ek dink die idioom is hier van toepassing: "Die koeël is deur die kerk" - en amptelik wil ek beslis nie meer deel van so 'n kerk wees nie).
My bedieningspad vorentoe: 
  • Die Kerk van Christus is gebaseer slegs op sy Woord, die Woord van die Waarheid. Hierdie Kerk is baie groter as 'n denominasie soos die NGK. Vorentoe gaan ek meer as ooit tevore voluit met ons eie besondere bediening naamlik om die evangelie, Bybels, Evangelies Gereformeerd, op Sosiale Media via ons Koninkryksfokus KoFie-projek, ver en wyd te deel - aan miljoene mense wat steeds totaal onbereik is met die Evangelie, mense sonder kennis van God se Woord en die wete dat God hulle ook in Jesus Christus liefhet. 
  • Elke leraar moet maar self op sy eie verantwoordelikheid sy pad met God en sy Woord in die Kerk voortsit. Ek sal steeds vir hierdie en elke ander Bybelgetroue kerk en leraars bid, maar... Dis gelukkig finaal in die hande van die enigste Hoof van die Kerk. Amen
Chris Visser,
Koninkryksfokus

Geen opmerkings nie: