Dinsdag 26 Januarie 2021

2. Die Groot Onsekerheid van ons dag

Mens hoef niks daaroor te verduidelik nie. Die onsekerheid is groot!

Almal ken die virus en die vrese daar rondom (almal ken seker nou al een of meer geliefdes wat reeds daaraan gesterf het). Ook die werkloosheid en hongersnood en toenemende armoede daarmee saam.

Hoe ons regering die land, die ekonomie en die mediese sorg van ons miljoene mense hanteer, al die debatte oor die entstowwe ens. Om van al die samesweringsteorië en wantroue na alle kante toe nie eers te praat nie. 

Groot onsekerheid by almal! As ek darem nie geglo het nie... (Ps 27:13)

Onsekerheid ook in die kerk.

Die kerk is die plek waarna mense hulle veral in onseker tye moet wend, ook die NG Kerk. Maar... ons leiers stry nou al meer as 'n dekade oor Selfdegeslag-verhoudings (SGV), wat nou na al die jare se debatte en ondersoeke in 2019 deur die NGK se Algemene Sinode (AS) goedgekeur is. Nie net is huwelike tussen dieselfde geslag goedgekeur nie, maar mag predikante sulke huwelike bevestig en word Gay-leraars selfs as predikante georden. Die onsekerheid is volgens my vererger met die besluit dat elke gemeente en predikant self kan besluit hoe om dit in die praktyk toe te pas. 

Nie meer is gehoorsaamheid aan die Skrif alleen die norm nie, maar hoe die situasie en behoeftes van mense dit vereis. Die belangrike Skrifriglyn van die huwelik tussen 'n man en 'n vrou, soos deur God geskep en deur Jesus onderskryf, soos deur Paulus gebruik as 'n beeld van die verhouding Christus en sy Kerk, dit is alles weggestoot omdat "menseregte" die finale sê gekry het. 

Vir my persoonlik is dit net nie te rym met my verstaan van die Skrif nie en ook nie tot eer van God nie. Ek kan nie anders as om die oortuiging te verwerp nie.

Die gevolge van die AS2019 besluit

  • Dit het sedertdien gelei tot die bedanking en wegloop van vele lidmate uit die NGK en noodwendig groot verliese in dankoffers - en minder fondse om die Kerk se hooftaak naamlik Wêreldevangelisasie te doen. 
  • Die besluit het verder gelei tot die stigting van die MORELETA KAIROS NETWERK (MKN) en die Dolering van tans reeds 63 gemeentes en baie predikante. Dit is veelseggend dat die voorsitter van die AS moderamen onlangs pleit vir EENHEID in die NGK te midde van die gevaartekens van Kerkskeuring wat al duideliker sigbaar word en die media wat dit geniet om oor hierdie hartseer situasie smalend te berig. 
So wat nou vorentoe? My eie worsteling daarmee en my enigste slotsom. (Dit word in my volgende Artikel aangespreek)

Chris Visser,

Koninkryksfokus

Geen opmerkings nie: