Maandag 04 Januarie 2021

 STERF OF GROEI DIE KERK? WAAROM?

In 2007 sê Prof Jurgens Hendriks in 'n aanbieding in George...
"Ons is in SA as’t ware op ʼn mespunt: dit is asof die kerk, die NGK spesifiek, die kans en geleentheid het om te besluit of sy wil deel wees van die kerk wat sterf of deel wil wees van die kerk wat groei. Elkeen van u persoonlik, elke gesin, elke gemeente staan, meestal onbewustelik, voor die keuse of hulle geestelik geleidelik gaan sterf en of hulle opnuut die Here gaan leer ken en gehoorsaam en deur die Heilige Gees vervul gaan word en deel word van ʼn oorvloedige lewe waar hulle hulle kinders en kleinkinders nog gelowig gaan sien."
Waar staan ons vandag, 13 jaar later?
Hy vra die vrae:
WANNEER VERLOOR ‘N KERK SY TOEKOMS?
WANNEER VERLOOR MENSE DIE HERE AS VERLOSSER?
Daar is ʼn basiese patroon in die geskiedenis: as mens die Here nodig het en in ootmoed na Hom gaan, hom gehoorsaam en dien, dan seën Hy jou op die lang termyn. As dit eers ʼn geslag of drie goed gegaan het,vergeet jy die Here en stilweg, stadig kruip die sonde onder jou vel in en maak dit jou geestelik dood. Lees gerus die boeke Rigters tot Kronieke en Deut 8 hieroor.
Die Prediker het gesê: "Wat is, was reeds. Wat kom, was ook reeds. God laat weer gebeur wat vroeër gebeur het."
DIE KERK VAN DIE TOEKOMS
As wat die prediker gesê het, waar is, kan ons die geheim van die kerk van die toekoms in die verlede nagaan. As wat gaan gebeur alreeds gebeur het, kan mens mos in die verlede gaan kyk om te leer oor die kerk van die toekoms!
Hendriks deel dan uit die boek van Rodney Stark: The Rise of Christianity (San Francisco: Harper Collins 1997), wat die redes is wat hy aanvoer hoekom die kerk so ʼn ongelooflike groeiperiode beleef het na die dood en opstanding van die Here Jesus Christus tot en met die jaar 350 n.C.
Van ongeveer 7000 vervolgde gelowiges in die tyd van Handelinge 2 groei die kerk oor 300 jaar teen 40% per dekade totdat hulle omtrent 33 miljoen mense tel uit ʼn totale bevolking in die Romeinse Ryk van 56 miljoen.... 33 uit 56 miljoen!
Stark sê die geheim vir die groei van die Christelike kerk is eintlik basies en eenvoudig. Jy kan al die beginsels in die Bybel self sien.
Hoe het dit gebeur? Die redes:
1 Die Christene het anders as die wêreld geleef: vgl Paulus se vermaninge in Ef 4 en Kol 4.
2 Christene het vir mekaar en ander uit liefde versorg
(In ons tyd van Corona-virus kan ons hiermee assosieer: Hendriks vertel: In die periode van 300 jaar was daar twee ongelooflike groot epidemies in die Romeinse ryk. In 165-180 n.C. is ongeveer ʼn kwart tot ʼn derde van die mense in die Romeinse Ryk dood. ʼn Honderd jaar later was dit weer so. Toe die epidemie op sy ergste was, is ongeveer 5000 mense per dag in Rome alleen oorlede. )
3 Christene het hulle huweliks- en gesinslewe volgens die Bybel se beginsels ingerig (Vgl 1 Kor 7, Ef 5; Kol 3; 1 Pet 3)
4 Christene was nie rassisties of seksisties nie (Vgl 1 Kor 3)
5 Christene was betroubare en hardwerkende mense, jy kon op hulle reken...
Hendriks noem die aspek van Werk: Christene was betroubaar, eerlik en hardwerkend. Hulle het as’t ware outomaties al hoe meer in die samelewing ʼn rol begin speel en mense het hulle gesoek vir werk. Voorbeelde: Ef 5 en veral 6, Kol 3:22-4:1; 1 Pet 2:18-25; 2 Thes 3:6-13.
Op die ou einde het die Romeinse Keiser Konstantyn die Christelike Godsdiens in 313 na Christus die staatsgodsdiens gemaak. Sy redes was eenvoudig: jy kon nie ʼn ryk regeer sonder betroubare mense nie en Christene was betroubare mense. Hy wou hulle saak bevoordeel want hulle sou sy saak bevoordeel.
Jy moet hierdie hele artikel lees. Dis die antwoord as ons die Kerk weer wil herstel en God se Koninkryk soek soos Jesus ons in sy Woord oproep.
No photo description available.

Geen opmerkings nie: