Maandag 15 Maart 2021

My antwoord op kommentaar ontvang oor "Waarheen NG Kerk?"

Ek het 'n epos in reaksie op my vorige plasing ontvang en wil my antwoord daarop hier deel:

Liewe E, dankie vir jou omgee vir die kerk en die Koninkryk, soos jy skryf...

Soos jy is ek ook 'n lidmaat van hierdie kerk, reeds ook byna 50 jaar as leraar). Die Bybel is ook vir my die enigste bron van my begrip van God se wil vir my lewe as volgeling van Jesus. Ek is so klein bietjie jonger as jy, maar waardeer regtig jou getuienis wat jy uitspreek om op hierdie stadium van jou lewe steeds ook die Here so met erns te dien. 

Soos jy is die uitbreiding van God se Koninkryk ook vir my van jongs af my grootste passie (ek het na my emeritaat 'n Internet-Evangelisasie bediening : Koninkryksfokus, begin en dis so wonderlik om steeds so vir die Here te werk). 

Jy skryf "Ek is oortuig dat my kerk in sy besluite wel getrou is aan die Bybel, soos ons hom verstaan. Die pad na hierdie siening word vir my pragtig verwoord in die boek 'Jesus vir Almal,' deur Neels Jackson."
Ek wil nie met jou stry nie, slegs die volgende wat jy dalk nie gelees het nie, aangesien dit later bygevoeg is in my vorige plasing: 'n Herinnering aan Prof Jan du Rand (Ek deel dit omdat dit sy mening verwoord en nie myne nie)  https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/herinnering-aan-jan-du-rand-1945-2021/
Oor Neels wil ek niks sê nie. Lees eerder die getuienis van Prof Jan (hy is verlede week aan Covid dood). Hy was 'n behoudende NT teoloog (maw hy het die Bybel nog ernstig opgeneem en geglo en gehoorsaam; hy skryf in sy boek oor die Onderwerp 'Homosekualitiet en die Bybel': “God se Woord het nog altyd die grense aangedui waarbinne God verwag dat ons leef. En dit is nie ter wille van ons eie voorkeure en gerief nie, maat tot eer van die almagtige God”.  Alleen dit kan sin maak vir my as Bybelgelowige.
Jy skryf (nav Neels se boek) dat jy oortuig is dat die meerderheid van mense wat homoseksueel is, geen keuse het in die saak nie; dat dit fisiologies bepaal is in hul DNA.  As jy verder belangstel, het ek die redes waarom ek self besluit het om die pad van Dolering te kies, hier uiteengesit, o.a. verwys ek na BAIE GAY-MENSE WAT GETUIG HOEDAT HULLE IN GEHOORSAAMHEID AAN DIE BYBEL EN DEUR DIE EVANGELIE VAN JESUS TE AANVAAR TOT BEKERING EN LEWENSVERANDERING GEKOM HET. Ek het ook talle verwysings van sulke getuienisse daar gedeel.

Neels propageer in sy boek dat Gay mense so gebore word; ek wil net daarop wys dat dit nog nooit wetenskaplik bewys is nie. Baie Gay mense wat later tot inkeer gekom het, vertel van ander redes (soos swak ouer-kind verhoudings en slegte kinderervarings soos molestering ens.). Dit is so dat dit 'n ingewikkelde saak is en ek is te dom om my daaroor verder uit te laat. Dieselfde vrae is... waarom word sommige kinders blind of doof of met ander afwykings gebore? Dis in God se Skeppingsplan so - dis al wat mens met sekerheid kan sê.

Neels propageer ook, soos die AS2019 besluite, om sulke mense toe te laat om in Selfdegeslag-verhoudings te gaan (en selfs ook predikante te kan wees); Dit kan ek nie glad nie met God se Woord versoen nie.   
Net soos jy glo ek van harte dat Jesus Sy lewe ook vir mense soos hulle gegee het, soos vir alle sondaars. Ek veroordeel geensins enige Gay-persoon as 'n sondaar nie, slegs die persone wat met hulle lewe afwyk van God se duidelike riglyne volgens sy woord - die van 'n selibaat lewe, netsoos ek as man ook nie buite my huwelik ander vroue (of mans?) seksueel mag doen nie. (lees maar die bekende Rom 1 hoofstuk). Ons mag nooit hulle uitsluit by die kerk nie; Net soos ek en jy, moet ook hulle tot inkeer kom en buig voor die gesag van God en sy Woord nie. Behalwe dat die Woord alle huweliksverhoudings buite die man-vrou-Huwelik afwys as sonde, is daar maar geen plek in die Bybel waar God ruimte laat vir 'n selfdegeslag "huwelik" soos die AS-2019 besluite nou propageer nie. Dis iets wat nie van die Bybel af nie, maar van buite af (begrippe soos "liefde bo alles" ens.) in die geloofsgemeenskap ingedra word, agv drukgroepe wat 'n sterk standpunt inneem vir "menseregte" bo God se Woord. (Voorbeelde van sulke druk is die dra van Liefde-is-Liefde T-hemde en demonstrasies, die verskeie Pro-Gay protes-petisies oor die afgelope jare asook verskeie Hofsake reeds teen behoudende Teoloë en besighede).
Meer belangrik, dit kan net nie tot eer van God wees nie. Lees weer Prof Jan du Rand se woorde "God se Woord het nog altyd die grense aangedui waarbinne God verwag dat ons leef. En dit is nie ter wille van ons eie voorkeure en gerief nie, maat tot eer van die almagtige God”
Mag die Here jou help hiermee. Ek glo jy bid saam met my vir die NGK leiers om alleen maar volgens God se Woord en tot sy eer die regte leiding te gee. Tans het ek persoonlik nie vrede dat dit die geval is nie, veral nie oor hierdie saak nie. 
Koninkryksgroete,
Chris Visser
Koninkryksfokus.

Geen opmerkings nie: