Donderdag 11 Maart 2021

Die NGK leierskap se geploeter met die Bybel

Die NGK leierskap se geploeter met die Bybel

Die leiers van die NG Kerk is nou al lank besig om algaande die Bybelse fondamente stadig onder homself uit te kalwe. Hoe naby die inplons is, sal ons maar moet sien, maar ek, emeritus leraar, dus maar met min aansien, maar nogtans met ’n eie mening, ek oordeel dis nie meer te vêr voor ’n instorting of skeuring van een of ander aard gaan plaasvind nie. (Mag dit steeds verhoed word.)

’n Kort opsomming van die konteks: Ons  begin maar by die AS2019 besluite. Dit was eintlik net ’n terugkeer na die 2015-AS besluite wat selfdegeslagverbintenisse “in liefde en trou” aanvaar het en dat gay predikante nie selibaat hoef te wees nie. Tussenin was daar egter ’n buitengewone Algemene Sinode 2016 waar die 2015 besluite dramaties omgekeer is. En... ’n Hofsaak teen die kerk, wat die kerk verloor het en toe maar gedienstig in 2019 eintlik net stert tussen die bene teruggekrabbel het (dis my opsommende siening daarvan)

Die langdurige gestry onder die leiers oor wat die Skrif oor Selfdegeslagverhoudings te sê het en of die Skrif enigsins iets daaroor te sê het vir Christene, dit het intussen baie gemeentes en lidmate die pad om te Doleer laat kies, nie te noem van die baie wat die kerk reeds verlaat het of hulle dankoffers terughou nie. Tyd en fokus vir die kerk se wesenstaak (Wêreldevangelisasie) het lankal reeds op groot skaal in die hek geduik. (Niemand is opgewonde om te gee vir ’n kerk wat sy dankoffers nie vir kerkwerk gebruik nie, maar... veral nie vir hofsake nie.) 

Die nadraai van Covid-19 is ook nog hangende. Daarom is veral die finansiële inplons nie meer vêr nie – dis my voorspelling. Die finale lidmate-inplonsing, dit lê nog voor. (Dit kon voorkom gewees het en was totaal onnodig.)

'n Paar gebeure die laaste ruk het noue verband hiermee:

1. Die Kairos-Netwerk, wat gemeentes verteenwoordig wat die AS-besluite verwerp, hulle het onlangs met die AS moderamen gesels en gevra: Kom ons praat weer (by ’n Sinode), hulle het net ’n koue skouer gekry.

2. Algemene Sinode Gids: Die Sinode se 2019 besluite om Selfdegeslag verbintenisse te aanvaar en die weerstand wat dit op grondvlak gekry het, het die AS genoop om hulle besluite beter te probeer verkoop onder gemeentes en lidmate wat nie meer hulle kerkleiers so maklik vertrou nie. Dus is daar 'n GIDS opgestel om die besluite oor die saak toe te lig en wat "lidmate wil help" - Waarmee? Om nie verder weerstand te bied (te Doleer) teen die AS2019 besluite nie en met mooi woorde te vertel wat hulle moet aanvaar hieroor. Baie klem word gelê op Liefde en Verdraagsaamheid, Kerkeenheid (ongeag?) en dat die saak nie ’n “kern-” nie, maar net ’n “randsaak” is ens.  Heelwat Bybelse tekste oor “onderlinge eenheid” word beklemtoon en ’n “Christelike styl” van gesprek (wat nie met die AS besluite mag verskil nie?) – dis my verstaan daarvan. 

3. Hoe moet 'n lidmaat die Gids beoordeel?  Moet lidmate maar net mooi soet na die persoon (die Sinodale amptenaar?) wat dit in die gemeente kom aanbied, luister en dit net aanvaar? 
Wel, luister ten minste na 'n buite-stem van die teoloog Dr Ferdie Mulder, wat met sy aanbieding oor die Algemene Sinode Gids, dit in diepte evalueer, voor jy finaal besluit. https://youtu.be/dfSYWd3fScc (Wel bietjie lank, maar die gestry oor die saak loop mos ook al jare).
Lees die Gids self soos in Kerkbode berig:  https://kerkbode.christians.co.za/2020/03/04/selfdegeslagbesluit-nuwe-gids-wil-sinodes-en-lidmate-help/ 

4.  Prof Johan van Rensburg: In 'n artikel onlangs in Maroela media hieroor, is die erns van die situasie binne die kerk en die Teologiese strominge duidelik uiteensit. Lees dit gerus self hier... https://maroelamedia.co.za/.../meni.../kerklike-integriteit/ 
Dit skets ’n somber prentjie van hoe tragies diep die gat van verdwaling en vasgelooptheid is waarin die NGK se kerk se leiers hierdie kerk doelgerig gelei het oor die afgelope jare. 

5. Prof. Jan du Rand: Met groot leedwese is die afgelope week verneem van die afsterwe van hierdie groot man onder NG Kerk Teoloë, iemand wat ek hooggeag het vir sy helder Bybelse kundigheid en bereidheid om teen toenemende druk van kollegas, “die ander kant van die saak” te stel, ’n helder Bybelse kant, téénoor teoloë wat by die tydsgees aansluit deur selfdegeslag­georiënteerdheid ’n biologiese gegewe te noem en wat die Skrif so interpreteer dat dit selfdegeslagverhoudings en -verbintenisse goedpraat, soos die AS2019 besluite maak. 
  1. Nadat ek self op 'n stadium deur die Teologiese gestryery verwar was, het veral twee insette van sy kant my duidelik gehelp tot ’n eie Bybelse oortuiging teen hierdie besluite en waarom ek self die Doleer pad gekies het. Ek kon nie anders nie. 
  2.  Op die teenblad van Prof. Du Rand se boek staan “God se Woord het nog altyd die grense aangedui waarbinne God verwag dat ons leef. En dit is nie ter wille van ons eie voorkeure en gerief nie, maat tot eer van die almagtige God”. Alleen dit kan sin maak vir my as Bybelgelowige.

 

So waarheen nou vir NGK lidmate? 

Ek kan jou ongelukkig nie voorsê nie. Elkeen moet met sy eie gewete die saak met die Here uitmaak volgens sy verstaan van die Skrif, soos wat die Woord duidelik oor die huwelik leer en watter pad die kerk tot die eer van God moet loop.

Wat myself betref... Die NGK se leierskap stel my totaal teleur weens hulle hantering van die Skrif soos dit oor jare ontwikkel het, ook rondom ander sake (soos bv. die historiese Opstanding van Christus en die bestaan van die Duiwel). Die goedkeuring van Selfdegeslagverhoudinge was vir my die laaste strooi.

Persoonlik wag en sien ek wat die pad gaan wees wat deur die Kairos-Netwerk met die NGK vorentoe geloop gaan word. Ek gaan intussen voort om as gelowige (nie noodwendig deel van enige kerkverband nie) my eie getuienistaak uit te voer deur ons eie bediening van Sosiale Media Evangelisasie: Koninkryksfokus-Kofie.projek. Dit kan ek met volle oorgawe doen, maar sal ook enige NG Kerk wat met die Opdrag van ons Here Jesus besig is, van ganser harte daarin ondersteun. (Intussen is ek baie meer opgewonde oor baie buitekerklike organisasies wat veral gedurende die Covid tydperk wonderlike koninkrykswerk oral in die gemeenskap en selfs op die Wêreldterrein gedoen het.)

Elkeen moet self besluit: Dit hang van elke gemeente, leraar en lidmaat af hoedanig elkeen op die AS besluite moet reageer. Om as gelowige wat die Bybel ernstig opneem en tot eer van God wil gehoorsaam, maar net die "groot manne" se Bybel-interpretering en besluite te aanvaar sonder enige eie verantwoordelikheid oor wat God in sy Woord verwag oor hierdie saak, dit moet elkeen self besluit. 

Ek bid steeds dat daar by kerkleiers  'n kentering kom, 'n terugkeer na die Woord van God as Enigste gesag. Ongelukkig stem die wêreldwye wegbeweeg daarvan vir my baie ooreen met Paulus se waarskuwings aan Timoteus op verskeie plekke in sy briewe. Net jammer dat dit deel geword het van die kerk waarin die Here my byna 50 jaar gelede geroep en ek die voorreg gehad het om Hom te dien.  

As jy nie daarvan oortuig is nie, maar niks verder doen nie, dan keur jy dit by implikasie goed. Dis dit!

Chris Visser

(Emeritus, Centurion)

 

3 opmerkings:

Johan Bloemhof - Frankryk het gesê...

Baie dankie Chris vir die belangrike perspektiewe en inligting om die AS se standpunt en verkeerde invloed te verstaan. Dit is regtig hartseer dat hulle so van God se Woord en eer afgedwaal het. Kom ons bid dat God die Kairos Netwerk kragtig sal gebruik vir totale Reformasie en dat God al die eer sal ontvang. In die opgestane verheerlikte Christus is daar hoop.

Kingdomfocus het gesê...

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/herinnering-aan-jan-du-rand-1945-2021/

Dr Stan Theron het gesê...

Post Scriptum:
1. Ons op die Afd B Eksamenkommissie het reeds met die meer liberale tense te doen geraak en is al hoe meer insette van die kommissie weggewys ook wat betref die ondersoek van studente. Met die laaste NTvlse Sinode is daar by die gesag 'n deur oopgemak vir akademiese eksegese wat 'n werlike Trojaanse Perd geword het van tendense reeds in die 19e eeu raakgesien en bestry. 'n Monument in Pretora herinner nog aan 'n onbevoegde hoogggeleede en president!

2. Sien my nederige bydra oor "Solus Christus"en die vyf Protestantse basis-sienings oor die Saligheid: www.https://docshaphan.wordpress.com/2017/05/25/christus-alleen/