Die NGK leierskap se geploeter met die Bybel
Die leiers van die NG Kerk is nou al lank besig om algaande
die Bybelse fondamente stadig onder homself uit te kalwe. Hoe naby die inplons
is, sal ons maar moet sien, maar ek, emeritus leraar, dus maar met min aansien,
maar nogtans met ’n eie mening, ek oordeel dis nie meer te vêr voor ’n instorting of skeuring van een of ander aard gaan plaasvind nie. (Mag dit steeds verhoed word.)
’n Kort opsomming van die konteks: Ons begin maar by die AS2019 besluite. Dit was
eintlik net ’n terugkeer na die 2015-AS besluite wat selfdegeslagverbintenisse
“in liefde en trou” aanvaar het en dat gay predikante nie selibaat hoef te wees
nie. Tussenin was daar egter ’n buitengewone Algemene Sinode 2016 waar die 2015
besluite dramaties omgekeer is. En... ’n Hofsaak teen die kerk, wat die kerk
verloor het en toe maar gedienstig in 2019 eintlik net stert tussen die bene
teruggekrabbel het (dis my opsommende siening daarvan)
Die langdurige gestry onder die leiers oor wat die Skrif oor
Selfdegeslagverhoudings te sê het en of die Skrif enigsins iets daaroor te sê
het vir Christene, dit het intussen baie gemeentes en lidmate die pad om te Doleer
laat kies, nie te noem van die baie wat die kerk reeds verlaat het of hulle
dankoffers terughou nie. Tyd en fokus vir die kerk se wesenstaak (Wêreldevangelisasie) het lankal reeds op
groot skaal in die hek geduik. (Niemand is opgewonde om te gee vir ’n kerk wat sy dankoffers nie
vir kerkwerk gebruik nie, maar... veral nie vir hofsake nie.)
Die nadraai van Covid-19
is ook nog hangende. Daarom is veral die finansiële inplons nie meer vêr nie – dis my
voorspelling. Die finale lidmate-inplonsing, dit lê nog voor. (Dit kon voorkom gewees het en was totaal onnodig.)
'n Paar gebeure die laaste ruk het noue verband
hiermee:
1. Die
Kairos-Netwerk, wat gemeentes verteenwoordig wat die AS-besluite verwerp, hulle het onlangs met die AS moderamen gesels en gevra: Kom ons praat weer (by ’n Sinode), hulle het net ’n koue skouer gekry.
2. Algemene Sinode Gids: Die Sinode se 2019 besluite om Selfdegeslag verbintenisse te aanvaar en die
weerstand wat dit op grondvlak gekry het, het die AS genoop om hulle besluite beter
te probeer verkoop onder gemeentes en lidmate wat nie meer hulle kerkleiers so
maklik vertrou nie. Dus is daar 'n GIDS opgestel om die besluite oor die saak toe te lig en wat "lidmate wil help" - Waarmee? Om nie
verder weerstand te bied (te Doleer) teen die AS2019 besluite nie en met mooi
woorde te vertel wat hulle moet aanvaar hieroor. Baie klem word gelê op Liefde
en Verdraagsaamheid, Kerkeenheid (ongeag?) en dat die saak nie ’n “kern-” nie,
maar net ’n “randsaak” is ens. Heelwat Bybelse tekste oor “onderlinge eenheid” word
beklemtoon en ’n “Christelike styl” van gesprek (wat nie met die AS besluite mag
verskil nie?) – dis my verstaan daarvan.
3. Hoe moet 'n lidmaat die Gids beoordeel? Moet lidmate maar net mooi soet na die persoon (die Sinodale amptenaar?) wat dit in die gemeente kom aanbied, luister en dit net aanvaar? Wel,
luister ten minste na 'n buite-stem van die teoloog Dr Ferdie Mulder,
wat met sy aanbieding oor die Algemene Sinode Gids, dit in diepte evalueer, voor jy
finaal besluit. https://youtu.be/dfSYWd3fScc
(Wel bietjie lank, maar die gestry oor die saak loop mos ook al jare).Lees die
Gids self soos in Kerkbode berig: https://kerkbode.christians.co.za/2020/03/04/selfdegeslagbesluit-nuwe-gids-wil-sinodes-en-lidmate-help/ Dit skets ’n somber prentjie van hoe
tragies diep die gat van verdwaling en vasgelooptheid is waarin die NGK se kerk se leiers hierdie kerk doelgerig
gelei het oor die afgelope jare.
5. Prof. Jan du Rand: Met groot leedwese is die afgelope week verneem van die afsterwe van hierdie groot man onder NG Kerk
Teoloë, iemand wat
ek hooggeag het vir sy helder Bybelse kundigheid en bereidheid om teen toenemende
druk van kollegas, “die ander kant van die saak” te stel, ’n helder Bybelse
kant, téénoor teoloë wat by die tydsgees aansluit deur selfdegeslaggeoriënteerdheid
’n biologiese gegewe te noem en wat die Skrif so interpreteer dat dit
selfdegeslagverhoudings en -verbintenisse goedpraat, soos die AS2019 besluite
maak. - Nadat ek self op 'n stadium deur die Teologiese gestryery verwar was, het veral twee insette van sy kant my duidelik gehelp tot ’n eie Bybelse
oortuiging teen hierdie besluite en waarom ek self die Doleer pad gekies het. Ek
kon nie anders nie.
- Op die teenblad van Prof. Du Rand se boek staan “God
se Woord het nog altyd die grense aangedui waarbinne God verwag dat ons leef.
En dit is nie ter wille van ons eie voorkeure en gerief nie, maat tot eer van
die almagtige God”. Alleen dit kan sin maak vir my as Bybelgelowige.
So waarheen nou vir NGK
lidmate?
Ek kan jou
ongelukkig nie voorsê nie. Elkeen moet met sy eie gewete die saak met die Here uitmaak volgens sy verstaan van die Skrif, soos wat die Woord duidelik oor die huwelik leer en watter pad die kerk tot die eer van God moet loop.
Wat myself
betref... Die NGK se leierskap stel my totaal teleur weens hulle hantering van die Skrif soos dit oor jare ontwikkel het, ook rondom ander sake (soos bv. die historiese Opstanding van Christus en die bestaan van die Duiwel). Die goedkeuring van Selfdegeslagverhoudinge was vir my die laaste strooi.
Persoonlik wag en sien ek wat die pad gaan wees wat deur die Kairos-Netwerk met die NGK vorentoe geloop gaan word. Ek gaan intussen voort om as gelowige (nie noodwendig deel van enige kerkverband nie) my eie getuienistaak uit te voer deur ons eie bediening van Sosiale Media Evangelisasie: Koninkryksfokus-Kofie.projek. Dit
kan ek met volle oorgawe doen, maar sal ook enige NG Kerk wat met die Opdrag
van ons Here Jesus besig is, van ganser harte daarin ondersteun. (Intussen is
ek baie meer opgewonde oor baie buitekerklike organisasies wat veral gedurende
die Covid tydperk wonderlike koninkrykswerk oral in die gemeenskap en selfs op
die Wêreldterrein gedoen het.)
Elkeen moet self besluit: Dit hang van elke gemeente, leraar en lidmaat af hoedanig elkeen op die AS besluite moet reageer. Om as gelowige wat die Bybel ernstig opneem en tot eer van God wil gehoorsaam, maar net die "groot manne" se Bybel-interpretering en besluite te aanvaar sonder enige eie verantwoordelikheid oor wat God in sy Woord verwag oor hierdie saak, dit moet elkeen self besluit.
Ek bid steeds dat daar by kerkleiers 'n kentering kom, 'n terugkeer na die Woord van God as Enigste gesag. Ongelukkig stem die wêreldwye wegbeweeg daarvan vir my baie ooreen met Paulus se waarskuwings aan Timoteus op verskeie plekke in sy briewe. Net jammer dat dit deel geword het van die kerk waarin die Here my byna 50 jaar gelede geroep en ek die voorreg gehad het om Hom te dien.
As jy nie daarvan oortuig is nie, maar niks verder doen nie, dan keur jy dit by implikasie goed. Dis dit!
Chris Visser
(Emeritus, Centurion)