Ek sal lank kan vertel van ons Korsika Uitreik, maar wil vandag slegs vertel van 'n paar mense wat ons tydens die vlugte ontmoet het. Elkeen 'n merkwaardige verhaal waarin ek God se hand in elke geval beleef het.
1) P. van Laos:
Terwyl ons op die lughawe van Addis Ababa in Afrikaans gesels, roep 'n man ons in Afrikaans nader. Self bly om ons moedertaal te hoor na twee weke van onverstaanbare Frans, begin ons dadelik lekker gesels. Wat 'n verhaal. Hy is reeds 25 jaar in die Ooste. Wat doen jy daar? Hy gee taallesse om aan die lewe te bly. Sy roeping? Sy doel? O ja, hy is ook 'n gelowige en leef en getuig as Christen teenoor sy studente.
Hoe het dit gebeur dat hy soontoe is? 25 jaar gelede deur die destydse IFP leier gevra om as een van sy sekuriteitspersoneel sy veiligheid te help verseker in 'n tyd toe daar bloedige gevegte tussen IFP en ANC was. Op een dag is 19 van sy makkers doodgeskiet. Hyself was swaar gewond en 23 dae in 'n koma. Na sy herstel, besef hy dat hy vir sye eie veiligheid sal moet landuit en dis waarom hy Ooste toe is. Vandag is hy baie gelukkig en wys net die mooiste fotos op sy selfoon van hoe mooi Laos is.
2) Die Kasregistermeisie op Addis Ababa:
Met die soontoe reis ontmoet ons haar. My vriend vra wat haar moedertaal is: Amharic, 'n inheemse taal wat wel die Bybel beskikbaar het. Ons het ook 'n "4 Geestelike Wette" van Campus Crusade in Amharic en wys dit vir haar. Aandagtig lees sy dit terwyl ons 'n koffie drink.
Later vertel ek haar van ons Kofie-projek (om die evangelie via Facebook te deel) en sy stel dadelik belang en gee my haar Facebook profiel-naam, want sê sy, sy het heelwat vrae oor geloof wat sy wil vra.
Met ons terugreis, kry ons dieselfde meisie weer by haar kasregister. Baie opgewonde kan ons opvolg. Ons is nou Facebook vriende en het reeds 'n paar gesprekke gevoer, onder andere vir haar gewys hoe om die Bybel in haar taal Amharic van YouVersion af te laai.
3) 'n Amerikaanse jongmens op pad na China:
Ons sukkel om plek te kry by die lughawe restaurant en vra of ons by die oop plekke by haar tafel kan sit. En so begin die gesprek. Wie? Wat? Waar? Wat sy gaan doen ens.
Ons, verduidelik ek, is sendelinge op pad van Korsika na Suid Afrika.
My logiese vraag: Is jy 'n Christen? Ken jy die evangelie? Nee, nie eintlik godsdienstig nie.
Ek vra haar: Kan ek vir jou deel hoe ek self glo en waarom dit so baie vir my beteken? OK!
Gou haal ek my sakboekie uit en skets vir haar 'n grafiese model van Joh 3:16 en deel die teks met haar; dat God haar ook lief het.
Net daar is my tyd om, want ons moet aanskuif vir ons volgende vlug.
Alhoewel sy nie regtig positief reageer het nie, kon sy die evangelie hoor, kon ek die blaadjie met my skets en paar tekste daarop by haar laat. Die Heilige Gees sal haar nie net so los nie. (en toe los ek per ongeluk my nuwe Korsika pet ook net daar by haar?)
4) Salman, 'n Indiërsakeman op die vlug terug:
Ek besef weereens: Langs wie mens op 'n vliegtuigvlug sit, is nooit toevallig nie.
Ons groet die gewone. Wie? Wat? Waar? vrae volg. Hy kom van Indië. O, dan is jy seker 'n Hindoe? of 'n Boeddhis? Nee, hy is 'n Moslem. Onlangs getroud; Vrou is tuis in Indië. Wys my op die kaart van die vliegtuig waar hy woon. Gaan werk nou in 'n besigheid van 'n familielid in Lesotho.
Moslem. O, en wat glo julle? Ek wil graag meer leer oor Islam, sê ek. Hoe word 'n mens gered as jy 'n Moslem is? Entoesiasties verduidelik hy hulle geloof; hulle gebede ens. Ek vra hoe goed ken hy die Koran? Ek wil graag hoor wat dit alles behels. Kan hy my meer vertel?
Daarna was die deur oop om hom te vra of ek my verstaan van geloof ens. ook met hom kan deel.
Verseker ja! Haal ek weer my boekie uit en skets die Evangelie en die pad wat God deur Jesus vir ons oopgemaak het (Die weg van Saligheid).
Aandagtig luister hy. Maak dit sin? Verstaan jy? Ja. Interessant, is sy kommentaar.
Ek beleef regtig 'n goddelike teenwoordigheid tussen ons, maar huiwer toe om verder voort te gaan met die gesprek.
Toe eers 'n draai loop. By my terugkoms... sien ek hoe die jongman sit en ruk soos hy snik. Ek voel so jammer vir hom, sit my hand op sy skouer en vra of ek vir hom kan bid. Asseblief, antwoord hy.
Ek bid vir hom soos ek gelei voel. Sy eensaamheid, pasgetroud en sy jong vrou tuis. Sy onsekerheid wat voorlê hier in Afrika ens. Dat God Homself aan hom sal openbaar en hy die ware vrede van God deur Jesus sal ervaar.
Later gee hy vir my sy WhatsApp nommer en eposadres.
Met die groet beleef ek 'n besondere band tussen ons. Ek belowe om vir hom te bid.
Ons het nou reeds verskeie gesprekke op WhatsApp gehad. Gevra waarvoor ek vir hom kan bid. Ook 'n paar maal toepaslike Bybeltekse met hom gedeel. Hom uitgenooi om die YouVersion Bybel in sy eie taal Urdu op sy selfoon af te laai. Die gesprekke gaan voort. God is ook baie lief vir hom.
5) Twee Joodse studente by die Doeane
As mens deur die lughawe doeane moet gaan, kan dit tydsaam wees. Hier loop ek twee Joodse studente raak. Tradisionele klere met hoofbedekking en als. Gesprek: Wie? Wat? Waar?
Ek antwoord op hulle vraag: Ek is 'n sendeling. Wat beteken dit? Wie het my gestuur? Watter kerk? My antwoord: Nie 'n kerk, maar die Messias Jesus. Ken hulle Hom? Nee, Hy het nog nie gekom nie.
Ek deel met hulle dat ek wat 'n "Goy" is (ongelowige in hulle oë) glo in Messias Jesus, en Hy het my verlos en gee my die ewige lewe. Maar hulle? Hulle verwerp Hom. Hoe werk dit tog?
Ek sê: Dalk was ek vandag 'n profeet om hulle hieroor te laat dink.
Een se reaksie: Dalk is hulle die profeet wat my moet reghelp...? ?
6) Laastens: Die Motorwag in Suid-Afrika:
My dokter het gesê: Ek moet dadelik gaan vir 'n prostaat toets as ek in SA terug is.
Eisjh. Kom ek kry dit agter die blad.
By die mediese sentrum ontmoet ek hom; 'n gewone motorwag wat my motor oppas.
Ek vra hom: Hoe gaan dit? Sy antwoord: Uitstekend, baie goed.
Regtig vra ek, waarom sê jy so?
Want die Here seën hom en is so goed vir hom.
Regtig? Ja, antwoord hy spontaan: 24/7 elke dag.
Die Prostaat uitslag: Geen probleem gevind! Prys die Here!
Ja, God is waarlik goed! 24/7 elke dag!